Ou Testament

Nuwe Testament

Jakobus 4:1-11 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Waar kom die stryd vandaan, waar kom die rusies onder julle vandaan? Kom dit nie van julle selfsugtige begeertes wat gedurig binne-in julle woed nie?

2. Julle wil dinge hê, maar kry dit nie en wil dan moord pleeg; julle is jaloers op 'n ander man se goed en kan dit nie in die hande kry nie en dan maak julle rusie en baklei julle. Julle kry nie, omdat julle nie bid nie.

3. As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid: julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig.

4. Weet julle nie, julle ontroues, dat vriendskap met die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie 'n vriend van die wêreld wil wees, wys daarmee dat hy 'n vyand van God is.

5. Of dink julle dat die Skrif sonder rede sê dat God die gees wat Hy in ons laat woon, heeltemal vir Homself wil hê?

6. Maar die genade wat Hy gee, is nog groter. Daarom sê Hy:“God weerstaan hoogmoediges,maar aan nederiges gee Hy genade.”

7. Onderwerp julle dan aan God. Staan die duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug.

8. Nader tot God en Hy sal tot julle nader. Was julle hande, sondaars, en reinig julle harte, huigelaars.

9. Bekla julle ellende, treur en huil! Laat julle vrolikheid in rou verander en julle blydskap in droefheid.

10. Onderwerp julle in nederigheid voor die Here, en Hy sal julle verhoog.

11. Moenie van mekaar kwaad praat nie, broers. Hy wat van sy broer kwaad praat of sy broer veroordeel, praat kwaad van die wet en veroordeel die wet. En as jy die wet veroordeel, handel jy nie meer volgens die wet nie, maar speel jy regter daaroor.

Lees volledige hoofstuk Jakobus 4