Ou Testament

Nuwe Testament

Hebreërs 9:9-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

9. Dit alles wys vooruit na die huidige tyd waarin offergawes en diereoffers gebring word wat nie vir dié een wat dit bring, 'n volkome skoon gewete kan gee nie.

10. Dit het net betrekking op voedsel, drank en 'n verskeidenheid reinigingsgebruike. Dit is voorskrifte wat slegs die uiterlike raak en wat opgelê is tot die tyd dat God 'n beter orde sou instel.

11. Maar Christus het gekom as Hoëpriester van die weldade wat nou verwesenlik is. Hy dien in die verbondstent wat groter en volmaakter is en nie deur mense gemaak is nie, dit wil sê wat nie tot hierdie wêreld behoort nie.

12. Met sy eie bloed en nie met dié van bokke en kalwers nie, het Hy net een maal die heiligdom binnegegaan en 'n ewige verlossing tot stand gebring.

13. Wanneer die bloed van bokke en bulle en die as van 'n vers op die onreines gesprinkel word, maak dit hulle uiterlik rein.

14. Hoeveel te meer sal die bloed van Christus ons gewete bevry van die las van dade wat tot die dood lei, sodat ons die lewende God kan dien! Hiervoor het Christus immers Homself as volkome offer deur die ewige Gees aan God geoffer.

15. Daarom is Hy ook die Middelaar van 'n nuwe verbond. Sy dood het plaasgevind om mense te verlos van die oortredinge wat onder die eerste verbond begaan is, sodat dié wat geroep is, die beloofde ewige erfenis kan ontvang.

16. Dit is soos met 'n testament: daar moet eers bewys word dat die testamentmaker dood is,

17. want 'n testament word alleen geldig by die dood van die testamentmaker; dit word nooit van krag so lank as hy nog leef nie.

18. Daarom is die eerste verbond ook nie sonder bloed ingestel nie.

19. Nadat Moses al die gebooie van die wet aan die hele volk oorgedra het, het hy bloed van kalwers en bokke saam met water geneem en met rooi wol en hisop die wetboek self sowel as die hele volk besprinkel

20. en gesê: “Dit is die bloed van die verbond wat God vir julle ingestel het.”

21. Ook die verbondstent en al die voorwerpe vir gebruik by die erediens het hy op dieselfde wyse met die bloed besprinkel.

Lees volledige hoofstuk Hebreërs 9