Ou Testament

Nuwe Testament

Hebreërs 7:7-23 Afrikaans 1983 (AFR83)

7. Dit is onbetwisbaar dat dit altyd die mindere is wat deur die meerdere geseën word.

8. In die geval van die Levitiese priesters is dit sterflike mense wat tiendes invorder, maar in die geval van Melgisedek iemand van wie getuig word dat hy lewe.

9. 'n Mens kan sê dat ook Levi, wat tiendes invorder, deur Abraham aan Melgisedek die tiende gegee het,

10. want Levi was nog in die liggaam van die stamvader toe Melgisedek vir Abraham tegemoet gegaan het.

11. Dit was in samehang met die Levitiese priesterskap dat die volk die wet van Moses ontvang het. As hierdie priesterskap volmaaktheid kon bewerk, waarom was dit dan nog nodig dat 'n ander priester volgens die priesterorde van Melgisedek aangestel moes word, van wie daar nie gesê word dat hy 'n priester volgens die orde van Aäron sou wees nie?

12. As daar 'n ander priesterskap kom, volg noodwendig ook 'n verandering van die wet.

13. Hy van wie hierdie dinge gesê word, behoort juis tot 'n ander stam, waaruit niemand ooit by die altaar diens gedoen het nie.

14. Dit is algemeen bekend dat ons Here van Juda afstam, en in verband met daardie stam het Moses niks oor die priesterskap gesê nie.

15. Die saak word nog duideliker as ons daaraan dink dat die ander priester wat te voorskyn tree, ooreenkom met Melgisedek,

16. deurdat Hy priester word nie deur die bepaling van die wet oor menslike afstamming nie, maar deur die krag van onvernietigbare lewe.

17. Van Hom word getuig:“Jy is priester vir ewig volgens die priesterorde van Melgisedek.”

18. Aan die een kant word die vroeëre bepaling dus afgeskaf vanweë die kragteloosheid en nutteloosheid daarvan:

19. die wet het nie volmaaktheid bewerk nie. Aan die ander kant het 'n beter hoop ingetree, waardeur ons tot God nader.

20. Dit het nie sonder die bevestiging met 'n eed plaasgevind nie. Die Leviete het wel priesters geword sonder die bevestiging met 'n eed,

21. maar Jesus met 'n eed deur God, wat vir Hom gesê het:“Die Here het dit met 'n eed bevestig en Hy sal dit nie herroep nie: ‘Jy is priester vir ewig.’ ”

22. So het Jesus ook van 'n beter verbond borg geword.

23. Daar is ook 'n ander verskil: omdat die dood die Levitiese priesters verhinder het om aan te bly, was daar baie wat mekaar opgevolg het.

Lees volledige hoofstuk Hebreërs 7