Ou Testament

Nuwe Testament

Hebreërs 7:13-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

13. Hy van wie hierdie dinge gesê word, behoort juis tot 'n ander stam, waaruit niemand ooit by die altaar diens gedoen het nie.

14. Dit is algemeen bekend dat ons Here van Juda afstam, en in verband met daardie stam het Moses niks oor die priesterskap gesê nie.

15. Die saak word nog duideliker as ons daaraan dink dat die ander priester wat te voorskyn tree, ooreenkom met Melgisedek,

16. deurdat Hy priester word nie deur die bepaling van die wet oor menslike afstamming nie, maar deur die krag van onvernietigbare lewe.

17. Van Hom word getuig:“Jy is priester vir ewig volgens die priesterorde van Melgisedek.”

18. Aan die een kant word die vroeëre bepaling dus afgeskaf vanweë die kragteloosheid en nutteloosheid daarvan:

19. die wet het nie volmaaktheid bewerk nie. Aan die ander kant het 'n beter hoop ingetree, waardeur ons tot God nader.

20. Dit het nie sonder die bevestiging met 'n eed plaasgevind nie. Die Leviete het wel priesters geword sonder die bevestiging met 'n eed,

21. maar Jesus met 'n eed deur God, wat vir Hom gesê het:“Die Here het dit met 'n eed bevestig en Hy sal dit nie herroep nie: ‘Jy is priester vir ewig.’ ”

Lees volledige hoofstuk Hebreërs 7