Ou Testament

Nuwe Testament

Hebreërs 13:9-25 Afrikaans 1983 (AFR83)

9. Moet julle nie laat meevoer deur allerhande vreemde leringe nie. Die goeie is daarin geleë dat die hart deur genade versterk word, nie deur eetgebruike nie. Dié wat hulle aan hierdie gebruike gehou het, het niks daarby gebaat nie.

10. Ons het 'n altaar waarvan dié wat nog die offerdiens volgens die ou orde verrig, nie die reg het om te eet nie.

11. Die bloed van die offerdiere word deur die hoëpriester in die heiligdom ingebring vir die sonde, maar hulle liggame word buitekant die laer verbrand.

12. Daarom het Jesus ook buitekant die stadspoort gely om die volk deur sy eie bloed van hulle sonde te reinig.

13. Laat ons dan nou uitgaan na Hom toe buitekant die laer en die smaad dra wat Hy gedra het,

14. want ons het in hierdie wêreld geen vaste verblyfplek nie, ons is op soek na die toekomstige.

15. Laat ons dan onophoudelik deur Jesus aan God 'n offer van lof bring, dié lof wat aan Hom gebring word deur die lippe wat sy Naam bely.

16. Moenie nalaat om goed te doen en mededeelsaam te wees nie, want dít is die offers wat vir God aanneemlik is.

17. Julle voorgangers hou wag oor julle lewe en moet aan God rekenskap gee. Wees gehoorsaam en onderdanig aan hulle, want dan sal hulle hulle werk met vreugde kan doen en nie kla nie; anders het dit vir julle geen nut nie.

18. Hou aan om vir ons te bid, want ons is daarvan oortuig dat ons gewete skoon is, omdat ons in elke opsig probeer doen wat reg is.

19. Veral dring ek by julle daarop aan om te bid dat God my gou na julle toe sal laat terugkom.

20. God wat vrede gee, het ons Here Jesus wat deur die bloed van die ewige verbond die groot Herder van sy kudde is, uit die dood teruggebring.

21. Mag dié God julle toerus met alles wat goed is, sodat julle sy wil kan doen. Mag Hy deur Jesus Christus in ons tot stand bring wat vir Hom aanneemlik is. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen.

22. Broers, dit is my dringende versoek: Julle moet geduldig na hierdie woorde luister waarmee ek julle bemoedig het, al het ek dit net kortliks aan julle geskrywe.

23. Julle weet seker al dat ons broer Timoteus vrygelaat is. As hy gou genoeg kom, bring ek hom saam wanneer ek julle besoek.

24. Groete aan al julle voorgangers en aan al die gelowiges. Dié wat van Italië afkomstig is, stuur ook vir julle groete.

25. Die genade van God sal by julle almal wees!

Lees volledige hoofstuk Hebreërs 13