Ou Testament

Nuwe Testament

Hebreërs 12:20-29 Afrikaans 1983 (AFR83)

20. Die bevel dat selfs 'n dier wat aan die berg raak, met klippe doodgegooi moet word, was vir hulle ondraaglik.

21. So angswekkend was die verskynsel dat Moses uitgeroep het: “Ek sidder van angs!”

22. Maar julle het wel gekom by Sionsberg en die stad van die lewende God, dit is die hemelse Jerusalem met sy miljoene engele, by die feestelike samekoms,

23. die vergadering van die eersgeborenes wie se name in die hemel opgeteken is. Julle het gekom by God wat Regter oor almal is, en by die geeste van dié wat vrygespreek en wat nou volmaak is,

24. by Jesus, die Middelaar van die nuwe verbond, en by die besprinkelingsbloed wat van iets beters getuig as die bloed van Abel.

25. Pas op, moet Hom wat met julle praat, nie afwys nie. Hulle wat Hom afgewys het toe Hy sy Goddelike woord op aarde laat hoor het, het nie ontkom nie. Hoeveel minder sal ons ontkom wanneer ons nie ag slaan op Hom wat van die hemel af met ons praat nie?

26. Destyds het sy stem die aarde laat wankel, maar nou het Hy aangekondig: “Nog een maal sal Ek nie alleen die aarde laat bewe nie, maar ook die hemel.”

27. Die woorde “nog een maal” laat duidelik blyk dat die geskape dinge, wat reeds aan die wankel is, finaal weggeneem sal word, sodat die onwankelbare dinge kan bly.

28. Laat ons wat 'n onwankelbare koninkryk ontvang het, dan nou dankbaar wees. Laat ons God dankbaar dien met eerbied en ontsag, soos Hy dit wil,

29. want ons God is 'n verterende vuur.

Lees volledige hoofstuk Hebreërs 12