Ou Testament

Nuwe Testament

Hebreërs 11:9-22 Afrikaans 1983 (AFR83)

9. Omdat hy geglo het, het hy in die beloofde land gaan woon, 'n vreemdeling in 'n vreemde land. In tente het hy daar gewoon, en so ook Isak en Jakob wat saam met hom erfgename van dieselfde belofte was,

10. want hy het uitgesien na die stad wat vaste fondamente het en waarvan God self die ontwerper en bouer is.

11. Omdat Abraham geglo het, het hy, hoewel Sara onvrugbaar was en hy al te oud, krag ontvang om 'n kind te verwek, omdat hy God wat dit beloof het, getrou geag het.

12. Die gevolg was dat daar van een man, 'n man wat nie meer 'n kind kon verwek nie, kinders afgestam het so talryk soos die sterre van die hemelruim en so baie soos die sand van die see.

13. Terwyl hulle steeds geglo het, het al hierdie mense gesterwe sonder om te verkry wat beloof is, maar hulle het dit uit die verte gesien en daaroor gejuig, en hulle het erken dat hulle hier op aarde slegs vreemdelinge en bywoners is.

14. Mense wat so praat, gee daarmee duidelik te kenne dat hulle op soek is na 'n vaderland.

15. As hulle terug verlang het na daardie land waaruit hulle weggetrek het, sou hulle die geleentheid gehad het om daarheen terug te gaan.

16. Maar hulle het na 'n beter vaderland, dit is die hemelse, verlang. Daarom is God nie skaam om hulle God genoem te word nie; trouens, Hy het vir hulle 'n stad gereed gemaak.

17-18. Omdat Abraham geglo het, het hy, toe hy op die proef gestel is, Isak as offer afgestaan. Ja, hy wat die belofte ontvang het en aan wie gesê is: “Uit Isak sal jou nageslag gebore word,” het gereed gestaan om sy enigste seun te offer.

19. Hy was daarvan oortuig dat God by magte is om uit die dood op te wek, waaruit Abraham vir Isak ook, om dit so te stel, terug ontvang het.

20. Omdat Isak geglo het, het hy Jakob en Esau geseën met die oog op die toekoms.

21. Omdat Jakob geglo het, het hy op sy sterfbed albei die seuns van Josef geseën en tot God gebid terwyl hy op die knop van sy kierie leun.

22. Omdat Josef geglo het, het hy kort voor sy dood melding gemaak van die uittog van die Israeliete en opdrag gegee in verband met sy liggaam.

Lees volledige hoofstuk Hebreërs 11