Ou Testament

Nuwe Testament

Hebreërs 11:13-23 Afrikaans 1983 (AFR83)

13. Terwyl hulle steeds geglo het, het al hierdie mense gesterwe sonder om te verkry wat beloof is, maar hulle het dit uit die verte gesien en daaroor gejuig, en hulle het erken dat hulle hier op aarde slegs vreemdelinge en bywoners is.

14. Mense wat so praat, gee daarmee duidelik te kenne dat hulle op soek is na 'n vaderland.

15. As hulle terug verlang het na daardie land waaruit hulle weggetrek het, sou hulle die geleentheid gehad het om daarheen terug te gaan.

16. Maar hulle het na 'n beter vaderland, dit is die hemelse, verlang. Daarom is God nie skaam om hulle God genoem te word nie; trouens, Hy het vir hulle 'n stad gereed gemaak.

17-18. Omdat Abraham geglo het, het hy, toe hy op die proef gestel is, Isak as offer afgestaan. Ja, hy wat die belofte ontvang het en aan wie gesê is: “Uit Isak sal jou nageslag gebore word,” het gereed gestaan om sy enigste seun te offer.

19. Hy was daarvan oortuig dat God by magte is om uit die dood op te wek, waaruit Abraham vir Isak ook, om dit so te stel, terug ontvang het.

20. Omdat Isak geglo het, het hy Jakob en Esau geseën met die oog op die toekoms.

21. Omdat Jakob geglo het, het hy op sy sterfbed albei die seuns van Josef geseën en tot God gebid terwyl hy op die knop van sy kierie leun.

22. Omdat Josef geglo het, het hy kort voor sy dood melding gemaak van die uittog van die Israeliete en opdrag gegee in verband met sy liggaam.

23. Omdat die ouers van Moses geglo het, het hulle hom na sy geboorte drie maande lank weggesteek toe hulle sien dat hy 'n mooi kindjie is. Hulle was nie bang vir die bevel van die koning nie.

Lees volledige hoofstuk Hebreërs 11