hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13

Ou Testament

Nuwe Testament

Hebreërs 1 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die uitnemende grootheid van die Seun van God

1. In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete,

2. maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun. God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het, ook erfgenaam van alles gemaak.

3. Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand. Nadat Hy die reiniging van sondes bewerkstellig het, het Hy gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel.

4. Hy is net so verhewe bo die engele as wat die Naam wat God Hom gegee het, voortrefliker is as hulle naam.

5. Immers, aan wie van die engele het God ooit gesê:“Jy is my Seun,van vandag af is Ek jou Vader,”en ook:“Ek sal sy Vader wees,en Hy sal my Seun wees”?

6. En wanneer God die Eersgeborene in die wêreld inbring, sê Hy:“Al die engele van God moet Hom aanbid.”

7. Van die engele sê Hy:“Hy maak sy engele stormwinde en sy dienaars vuurvlamme.”

8. Maar van die Seun sê Hy:“U troon, o God, staan vir ewig vas,met u koninklike septer laat U reg geskied.

9. U het die reg lief en U haat die onreg.Daarom het God, u God,U onder groot vreugde tot Koning gesalf bo u tydgenote.”

10. En verder:“U, Here, het in die begin die aarde gevestig,en ook die hemel is die werk van u hande.

11. Dié dinge sal vergaan, maar U bly bestaan;soos 'n kledingstuk sal alles verslyt;

12. soos klere sal U dit oprol;ja, soos 'n kledingstuk sal dit vervang word.Maar U, U bly dieselfde,en u jare het geen einde nie.”

13. Van watter engel het Hy ooit gesê:“Sit aan my regterhand,totdat Ek jou vyande aan jou onderwerp het”?

14. Is hulle dan nie almal geeste in diens van God, wat Hy uitstuur om dié te dien wat die saligheid gaan beërf nie?