Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 9:1-12 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Intussen het Saulus soos 'n besetene voortgegaan om die volgelinge van die Here met die dood te dreig. Hy het na die hoëpriester toe gegaan

2. en van hom bekendstellingsbriewe aan die sinagoges in Damaskus gevra. Sy doel was om al die aanhangers van die leer van die Here wat hy daar kry, mans sowel as vrouens, gevange te neem en na Jerusalem toe te bring.

3. Toe hy op reis naby Damaskus kom, het daar skielik 'n lig uit die hemel op hom gestraal.

4. Hy het op die grond neergeval en 'n stem vir hom hoor sê: “Saul, Saul, waarom vervolg jy My?”

5. “Wie is U, Here?” vra hy toe.“Ek is Jesus,” antwoord Hy. “Dit is vir My wat jy vervolg.

6. Maar staan op en gaan na die stad toe. Daar sal vir jou gesê word wat jy moet doen.”

7. Die mense wat saam met hom op pad was, het sprakeloos gestaan. Hulle het die stem gehoor maar niemand gesien nie.

8. Toe Saulus van die grond af opstaan en sy oë oopmaak, kon hy nie sien nie. Hulle het sy hand gevat en hom na Damaskus toe gelei.

9. Drie dae lank kon hy nie sien nie en het hy niks geëet of gedrink nie.

10. In Damaskus was daar 'n sekere volgeling van Jesus met die naam Ananias. Die Here het hom in 'n gesig geroep: “Ananias!”“Hier is ek, Here,” het hy geantwoord.

11. En die Here sê vir hom: “Gaan dadelik na Reguitstraat toe en vra by Judas se huis na 'n man van Tarsus met die naam Saulus. Hy is besig om te bid

12. en hy het in 'n gesig 'n man met die naam Ananias sien inkom wat hom die hande oplê sodat hy weer kan sien.”

Lees volledige hoofstuk Handelinge 9