Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 7:46-56 Afrikaans 1983 (AFR83)

46. God was vir hom goed, en Dawid het gevra om toegelaat te word om vir God 'n tempel te bou vir gebruik deur die nageslag van Jakob.

47. Maar dit was Salomo wat die tempel gebou het.

48. God, die Allerhoogste, woon egter nie in geboue wat deur mense gemaak is nie. Soos die profeet dit stel:

49. “Die hemel is my troonen die aarde die rusplek vir my voete, sê die Here.Watter soort huis sal julle tog vir My bouof watter plek as my rusplek?

50. Het Ek nie self al hierdie dinge gemaak nie?

51. “Julle hardkoppiges! Julle is heidens in julle harte. Julle is doof vir die woord van God. Julle weerstaan altyd die Heilige Gees. Soos julle voorvaders gemaak het, maak julle ook.

52. Was daar ooit 'n profeet wat nie deur julle voorvaders vervolg is nie? Hulle het God se boodskappers doodgemaak wat lank tevore die koms van die Regverdige aangekondig het. Nou het julle self die Regverdige verraai en vermoor.

53. Julle is die mense wat deur bemiddeling van engele die wet van God ontvang het, en tog het julle dit nie gehoorsaam nie.”

54. Toe die lede van die Joodse Raad dit hoor, het hulle van woede op hulle tande gekners.

55. Maar Stefanus, vol van die Heilige Gees, het opgekyk na die hemel en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat aan die regterhand van God staan.

56. “Kyk,” het hy gesê, “ek sien die hemel geopen en die Seun van die mens wat aan die regterhand van God staan.”

Lees volledige hoofstuk Handelinge 7