Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 7:17-33 Afrikaans 1983 (AFR83)

17. “Teen die tyd dat God die belofte wat Hy aan Abraham gegee het, sou uitvoer, het die volk in Egipte reeds tot 'n groot getal aangegroei.

18. 'n Nuwe koning, wat nie vir Josef geken het nie, het egter in Egipte aan die bewind gekom,

19. en hy het 'n slim plan teen ons mense beraam en ons voorouers wreed behandel. Hy het hulle verplig om hulle babatjies buite aan hulle lot oor te laat, sodat hulle nie aan die lewe sou bly nie.

20. In dié tyd is Moses gebore, en hy was baie mooi. Drie maande lank is hy in sy ouerhuis versorg,

21. en daarna is hy buite aan sy lot oorgelaat. Daar het die farao se dogter hom gekry, en sy het hom as haar eie seun grootgemaak.

22. Moses is opgelei in al die wysheid van die Egiptenaars en hy het uitgeblink in woord en daad.

23. “Op veertigjarige leeftyd het die verlange by hom opgekom om te gaan kyk hoe dit met sy mense, die volk Israel, gaan.

24. Toe hy sien dat een van hulle deur 'n Egiptenaar mishandel word, het hy die slagoffer gaan help en die misdaad gewreek deur die Egiptenaar dood te slaan.

25. Hy het gemeen sy mense sou begryp dat God hom wou gebruik om hulle te red, maar hulle het dit nie verstaan nie.

26. Toe hy die volgende dag op twee Israeliete afkom wat baklei, wou hy vrede maak en hy sê: ‘Mense, julle is tog broers! Hoekom baklei julle dan met mekaar?’

27. Maar die een wat met die bakleiery begin het, stamp vir Moses opsy en sê: ‘Wie het jou as ons leier en as regter oor ons aangestel?

28. Wil jy my ook doodslaan, soos jy gister die Egiptenaar doodgeslaan het?’

29. Toe Moses dit hoor, het hy gevlug en 'n bywoner in Midian geword. Dáár is vir hom twee seuns gebore.

30. “Veertig jaar later het 'n engel eendag in die woestyn by Sinaiberg in die vlamme van 'n brandende doringbos aan Moses verskyn.

31. Moses was baie verbaas oor wat hy sien, en toe hy nader gaan om te kyk wat dit is, hoor hy die stem van die Here:

32. ‘Ek is die God van jou voorvaders, die God van Abraham, Isak en Jakob.’ Moses het gebewe en dit nie gewaag om te kyk nie.

33. En die Here sê vir hom: ‘Trek jou skoene uit, want die plek waarop jy staan, is gewyde grond.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 7