Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 4:24-35 Afrikaans 1983 (AFR83)

24. Toe hulle dit hoor, het hulle almal saam tot God gebid en gesê: “Here, dit is U wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daar is, gemaak het.

25. En U het deur die Heilige Gees by monde van ons voorvader Dawid, u dienaar, gesê:“Waarom het heidennasies te kere gegaan,en het volke sinlose planne beraam?

26. Die konings van die aarde het in opstand gekom,en die heersers het saamgespanteen die Here en teen sy Gesalfde.

27. “Dit is wat werklik in hierdie stad gebeur het. Herodes en Pontius Pilatus het met heidennasies en die volk Israel saamgespan teen u heilige Dienaar, Jesus, wat deur U gesalf is,

28. en hulle het alles gedoen wat U vooruit beskik en besluit het.

29. “En nou, Here, kyk hoe dreig hulle ons. Gee dat u dienaars met volle vrymoedigheid u woord sal verkondig.

30. Laat u hand genesing bring, en laat daar tekens en wonders plaasvind deur die Naam van u heilige Dienaar, Jesus.”

31. Nadat hulle gebid het, het die plek waar hulle bymekaar was, geskud. Hulle is almal met die Heilige Gees vervul en het met vrymoedigheid die woord van God verkondig.

32. Die groot getal wat gelowig geword het, was een van hart en siel. Niemand het sy goed net vir homself gehou nie, maar hulle het alles met mekaar gedeel.

33. Die apostels het kragdadig getuig dat die Here Jesus uit die dood opgestaan het, en die genade van God was groot oor hulle almal.

34. Nie een van hulle het gebrek gely nie, want dié wat grond of huise besit het, het dit verkoop en die verkoopprys daarvan gebring

35. en vir die apostels gegee. Dié het dit dan uitgedeel volgens elkeen se behoefte.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 4