Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 27:30-41 Afrikaans 1983 (AFR83)

30. Die matrose wou wegkom van die skip af en het die bootjie in die see neergelaat onder die voorwendsel dat hulle ankers by die boeg van die skip wou laat sak.

31. Paulus sê toe vir die offisier en sy soldate: “As hierdie matrose nie aan boord bly nie, kan julle nie gered word nie.”

32. Toe het die soldate die toue van die bootjie afgekap en hom in die see laat val.

33. Net toe dit begin lig word, het Paulus almal aangespoor om te eet: “Vandag is dit al veertien dae dat julle in spanning wag sonder om iets te eet.

34. Daarom raai ek julle aan om nou te eet. Julle het dit nodig om gered te word. Niemand van julle sal 'n haar van sy kop verloor nie.”

35. Nadat Paulus dit gesê het, het hy brood geneem, God in die teenwoordigheid van almal gedank, dit gebreek en begin eet.

36. Hulle het almal moed geskep en self ook begin eet.

37. Ons was altesaam twee honderd ses en sewentig mense aan boord.

38. Nadat hulle genoeg geëet het, het hulle die vrag koring in die see gegooi en so die skip nog ligter gemaak.

39. Toe dit dag word, kon hulle nie die land herken nie, maar hulle het 'n baai met 'n strand gesien. Hulle besluit toe om die skip daar te laat strand as hulle kon.

40. Hulle het die ankers afgekap en in die see gelos. Terselfdertyd het hulle die toue wat die stuurspane vashou, losgemaak en die voorseil gehys, sodat die wind die skip strand toe kon voer.

41. Maar die skip het op 'n sandbank geloop en gestrand. Die boeg het vasgesteek en kon nie beweeg nie. Die agterstewe is deur die geweld van die golwe stukkend geslaan.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 27