Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 27:1-10 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Toe ons vertrek na Italië toe bepaal was, het hulle Paulus en 'n paar ander gevangenes aan Julius, 'n offisier van die keiserlike regiment, oorhandig.

2. Ons het weggevaar aan boord van 'n skip van Adramittium wat by die hawens van die provinsie Asië sou aandoen. Saam met ons was Aristargos, 'n Masedoniër van Tessalonika.

3. Ons het die volgende dag in Sidon aangekom. Julius was tegemoetkomend teenoor Paulus en het hom toegelaat om sy vriende te besoek. Hulle het hom van die een en ander voorsien.

4. Ons het daarvandaan weggevaar en ons is aan die beskutte kant van Siprus verby, omdat die wind teen ons was.

5. Met Silisië en Pamfilië aan ons regterkant het ons die see oorgesteek en Mira in Lisië bereik.

6. Daar het die offisier 'n Aleksandrynse skip gekry wat na Italië toe sou vaar, en ons daarop gesit.

7. Ons het dae lank stadig gevaar en met moeite regoor Knidus gekom. Toe die wind ons nie toegelaat het om verder op dié koers voort te gaan nie, het ons aan die beskutte kant van Kreta by Salmone verby gevaar.

8. Ons het met moeite langs die kus op gevaar en 'n plek met die naam Mooi Hawens bereik, naby die stad Lasea.

9. Ons het baie tyd verloor, en dit het al gevaarlik geword vir skeepvaart, want dit het al begin winter word. Paulus waarsku hulle toe:

10. “Manne, ek sien dat ons vaart van nou af gevaarlik sal wees en dat daar nie net groot skade aan die vrag en die skip gaan kom nie, maar ook lewensverlies.”

Lees volledige hoofstuk Handelinge 27