Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 26:18-30 Afrikaans 1983 (AFR83)

18. Jy moet hulle oë oopmaak sodat hulle hulle van die duisternis tot die lig en van die mag van die Satan tot God kan bekeer. Deur in My te glo, sal hulle sondes vergewe word en sal hulle deel word van die volk van God.’

19. “Van toe af, koning Agrippa, was ek nie aan die gesig uit die hemel ongehoorsaam nie.

20. Ek het eers vir die mense in Damaskus en in Jerusalem en toe deur die hele Judea en daarna vir die heidennasies gepreek dat hulle tot inkeer moet kom en hulle tot God moet bekeer; en dit moet hulle bewys met dade wat by die bekering pas.

21. Daarom het die Jode my by die tempel aangeval en probeer vermoor.

22. Omdat God my tot vandag toe bewaar het, staan ek hier as sy getuie voor klein en groot. Ek verkondig maar net waarvan die profete en Moses gepraat het:

23. Die Christus moes ly en die eerste wees wat uit die dood opstaan. Daardeur sou Hy aan die Jode en aan die heidennasies die lig bring.”

24. Terwyl Paulus hom nog so verdedig, skreeu Festus: “Jy's mal, Paulus! Jou groot geleerdheid maak jou mal!”

25. Maar Paulus sê: “Ek is nie mal nie, U Edele, maar onder die leiding van die Heilige Gees praat ek die waarheid wat elkeen kan verstaan.

26. Die koning weet van hierdie dinge, en daarom praat ek openhartig met hom. Ek is seker dat dit nie sy aandag ontgaan het nie, want dit het nie êrens in 'n hoekie gebeur nie.

27. Koning Agrippa, glo u die profete? Ek weet u glo.”

28. Agrippa sê toe vir Paulus: “Jy dink seker jy kan my sommer gou-gou 'n Christen maak.”

29. “Of dit nou gou-gou gebeur of langer duur,” antwoord Paulus, “ek bid God dat nie net u nie, maar almal wat vandag na my luister, sal word wat ek is, natuurlik net sonder hierdie boeie.”

30. Die koning het opgestaan en saam met hom ook die goewerneur en Bernice, met hulle gevolg.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 26