Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 26:12-23 Afrikaans 1983 (AFR83)

12. “Terwyl ek hieroor na Damaskus toe op reis was, met volmag en in opdrag van die priesterhoofde,

13. het ek, U Majesteit, helder oordag langs die pad 'n lig gesien wat uit die hemel gekom het. Dit was helderder as die son en dit het op my en my reisgenote geskyn.

14. Ons het almal op die grond neergeval, en ek het 'n stem in Hebreeus vir my hoor sê: ‘Saul, Saul, waarom vervolg jy My? Jy maak jou net seer deur jou te verset.’

15. ‘Wie is U, Here?’ vra ek toe. ‘Ek is Jesus,’ sê die Here. ‘Dit is vir My wat jy vervolg.

16. Maar staan op, staan regop. Ek het aan jou verskyn om jou as my dienaar aan te stel. Jy moet getuie wees van wat jy van My gesien het en van wat Ek jou nog sal laat sien.

17. Ek sal jou beskerm teen die volk Israel en teen die heidennasies na wie toe Ek jou stuur.

18. Jy moet hulle oë oopmaak sodat hulle hulle van die duisternis tot die lig en van die mag van die Satan tot God kan bekeer. Deur in My te glo, sal hulle sondes vergewe word en sal hulle deel word van die volk van God.’

19. “Van toe af, koning Agrippa, was ek nie aan die gesig uit die hemel ongehoorsaam nie.

20. Ek het eers vir die mense in Damaskus en in Jerusalem en toe deur die hele Judea en daarna vir die heidennasies gepreek dat hulle tot inkeer moet kom en hulle tot God moet bekeer; en dit moet hulle bewys met dade wat by die bekering pas.

21. Daarom het die Jode my by die tempel aangeval en probeer vermoor.

22. Omdat God my tot vandag toe bewaar het, staan ek hier as sy getuie voor klein en groot. Ek verkondig maar net waarvan die profete en Moses gepraat het:

23. Die Christus moes ly en die eerste wees wat uit die dood opstaan. Daardeur sou Hy aan die Jode en aan die heidennasies die lig bring.”

Lees volledige hoofstuk Handelinge 26