Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 24:18-27 Afrikaans 1983 (AFR83)

18. Toe ek met die offers besig was, het hulle my in die tempel gekry. Ek was klaar met die reinigingshandeling, en daar was nie 'n skare of 'n gedrang om my nie.

19. Daar was net 'n paar Jode van die provinsie Asië. Dit is eintlik hulle wat hier voor u moes gewees het om my aan te kla, as hulle iets teen my kan inbring.

20. Of laat hierdie mense dan nou sê aan watter misdaad ek in my verhoor voor die Joodse Raad skuldig bevind is.

21. Al wat ek daar vir hulle gesê het, was: Ek staan vandag hier voor julle tereg omdat ek aan die opstanding van die dooies glo.”

22. Hier het Feliks, wat die besonderhede in verband met die leer van Christus taamlik goed geken het, die verhoor onderbreek. “Wanneer Lisias, die kommandant, kom, sal ek julle saak afhandel,” het hy gesê.

23. Hy het die kaptein beveel om Paulus nog aan te hou, maar om hom minder streng te behandel en sy mense ook toe te laat om vir hom te sorg.

24. Na 'n paar dae het Feliks en sy Joodse vrou, Drusilla, vir Paulus laat haal om meer van hom te hoor oor die geloof in Christus Jesus.

25. Paulus het met hom gepraat oor 'n lewe in gehoorsaamheid aan God, oor selfbeheersing en oor die komende oordeel. Dit het Feliks laat bang word, en hy het gesê: “Dit is nou genoeg! Gaan maar terug, en as ek tyd het, sal ek jou weer laat roep.”

26. Hy het die hele tyd ook gehoop Paulus sou hom omkoopgeld aanbied om los te kom. Daarom het hy hom so dikwels moontlik laat haal om met hom te praat.

27. Twee jaar later is Feliks deur Porcius Festus opgevolg. En omdat Feliks die Jode 'n guns wou bewys, het hy Paulus as gevangene agtergelaat.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 24