Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 23:21-35 Afrikaans 1983 (AFR83)

21. U moet hulle tog nie glo nie, want meer as veertig van hulle wil hom voorlê. Hulle het gesweer dat hulle nie sal eet of drink voordat hulle hom doodgemaak het nie. Hulle sit klaar en hulle wag nou net dat u hulle versoek moet toestaan.”

22. Die kommandant sê toe vir hom: “Moet vir niemand sê dat jy dit vir my vertel het nie.”En hy het hom toe laat gaan.

23. Die kommandant het toe twee kapteins geroep en hulle beveel: “Maak twee honderd soldate, sewentig perderuiters en twee honderd spiesvegters gereed om teen nege-uur vanaand na Sesarea toe te vertrek.

24. Sorg dat daar rydiere is, sodat Paulus veilig na Feliks, die goewerneur, oorgebring kan word.”

25. Toe skrywe hy 'n brief met die volgende inhoud:

26. “Van Claudius Lisias.“Aan die hooggeagte goewerneur Feliks.“Groete.

27. “Die Jode het hierdie man gevang en hulle het op die punt gestaan om hom dood te maak toe ek met my soldate ingegryp en hom gered het, omdat ek te wete gekom het dat hy 'n Romeinse burger is.

28. Omdat ek wou uitvind wat hulle beskuldiging teen hom is, het ek hom voor hulle Raad gebring.

29. Dit blyk dat hulle hom aankla oor twispunte in verband met hulle wet, maar dat hy niks gedoen het wat die dood of tronkstraf verdien nie.

30. Toe aan my meegedeel is dat daar 'n komplot teen die man gesmee is, het ek hom dadelik na u toe gestuur. Vir sy aanklaers het ek gesê om hulle klagte aan u voor te lê.”

31. Die soldate het hulle opdrag uitgevoer en Paulus dwarsdeur die nag begelei tot in Antipatris.

32. Die volgende dag het hulle die ruitery met Paulus verder laat gaan en self teruggekeer kaserne toe.

33. Die ruitery het in Sesarea aangekom, die brief aan die goewerneur afgelewer en Paulus aan hom oorhandig.

34. Hy het die brief gelees en vir Paulus gevra van watter provinsie hy afkomstig is. Toe hy hoor dat hy van Silisië af kom,

35. het hy gesê: “Ek sal jou verhoor sodra jou aanklaers kom.”Daarna het hy beveel dat Paulus in die paleis van Herodes bewaak moet word.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 23