Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 22:7-24 Afrikaans 1983 (AFR83)

7. Ek het op die grond neergeval en 'n stem vir my hoor sê: ‘Saul, Saul, waarom vervolg jy My?’

8. ‘Wie is U, Here?’ het ek gevra. ‘Ek is Jesus van Nasaret,’ het Hy my geantwoord. ‘Dit is vir My wat jy vervolg.’

9. “Die mense wat saam met my was, het wel die lig gesien, maar nie die stem verstaan van Hom wat met my gepraat het nie.

10. Toe vra ek: ‘Wat moet ek doen, Here?’ Die Here sê toe vir my: ‘Staan op en gaan na Damaskus toe. Dáár sal alles vir jou gesê word wat God bepaal het dat jy moet doen.’

11. “Die skerp lig het my blind gemaak, en my reisgenote moes my aan die hand lei. So het ek in Damaskus aangekom.

12. 'n Sekere Ananias, 'n man wat getrou volgens die wet van Moses gelewe het en by al die Jode in die stad hoog aangeskrewe was,

13. het na my toe gekom. Hy het by my kom staan en gesê: ‘Saul, broer, jy kan weer sien!’ En dadelik kon ek hom sien.

14. Toe sê hy: ‘Die God van ons voorvaders het jou uitgekies om sy wil te ken, die Regverdige te sien en sy stem te hoor,

15. want jy sal vir alle mense sy getuie wees van wat jy gesien en gehoor het.

16. En nou, waarom nog wag? Kom, laat jou doop en jou sondes afwas nadat jy sy Naam aangeroep het.’

17. “Ek het na Jerusalem toe teruggegaan, en terwyl ek by die tempel besig was om te bid, het ek in geesvervoering geraak

18. en die Here gesien wat vir my gesê het: ‘Maak gou en gaan dadelik uit Jerusalem weg. Die mense hier sal nie aanvaar wat jy oor My getuig nie.’

19. Toe het ek gesê: ‘Ja, Here, hulle weet dat ek die man is wat oral in die sinagoges die mense wat in U glo, laat vang en laat slaan het.

20. En toe Stefanus, u getuie, se bloed vergiet is, het ek self daarby gestaan. Ek het dit goedgekeur en sy moordenaars se klere opgepas.’

21. Toe het die Here vir my gesê: ‘Jy moet hiervandaan weggaan, want Ek wil jou ver weg stuur, na die heidene toe.’ ”

22. Meer as dit wou die skare nie hoor nie, en hulle het begin skreeu: “Weg met hom! So 'n man behoort nie te bly lewe nie!”

23. Die skare het geskreeu, hulle klere uitgepluk en stof in die lug opgegooi.

24. Die kommandant het toe beveel dat Paulus in die kaserne ingebring moet word en dat hy gegesel moet word om vas te stel hoekom die skare hom so uitgejou het.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 22