Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 19:11-18 Afrikaans 1983 (AFR83)

11. God het deur Paulus wonderbaarlike dinge gedoen.

12. Selfs doeke of voorskote wat aan sy lyf geraak het, is op siekes gesit en dan het hulle siektes verdwyn; en die bose geeste het uit hulle uitgegaan.

13. Party Jode wat rondgegaan het om bose geeste te besweer, het dit ook gewaag om die Naam van die Here Jesus daarvoor te gebruik. Hulle het gesê: “Ek besweer julle in die Naam van dié Jesus wat deur Paulus verkondig word.”

14. Dit was die sewe seuns van 'n Joodse priesterhoof, Skeva, wat dit gedoen het.

15. Maar een van die bose geeste het vir hulle gesê: “Jesus ken ek, en van Paulus weet ek, maar julle, wie is julle?”

16. Die man met die bose gees spring toe onder hulle in en oorweldig hulle. Hy was te sterk vir hulle, sodat hulle kaal en stukkend geslaan uit daardie huis gevlug het.

17. Al die Jode en Grieke wat in Efese gewoon het, het daarvan te hore gekom. Vrees het hulle almal oorval, en die Naam van die Here Jesus is geprys.

18. Baie van die mense wat gelowig geword het, het ook gekom en al hulle towerpraktyke openlik bely en bekend gemaak.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 19