Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 18:10-19 Afrikaans 1983 (AFR83)

10. want Ek is by jou. Niemand sal jou aanval of jou kwaad aandoen nie, want in hierdie stad behoort baie mense aan My.”

11. Paulus het 'n jaar en ses maande lank daar gebly en die mense onderrig in die woord van God.

12. Nadat Gallio goewerneur van Agaje geword het, het die Jode egter soos een man teen Paulus in opstand gekom en hom voor die hof gebring.

13. “Hierdie man,” het hulle gesê, “probeer die mense oorhaal om God op 'n manier te vereer wat in stryd is met ons wet.”

14. Paulus wou praat, maar toe sê Gallio vir die Jode: “As dit oor 'n onreg of 'n ernstige misdaad gegaan het, was dit my plig om geduldig na julle Jode te luister.

15. Maar aangesien dit 'n geredekawel is oor woorde en name en julle eie wet, moet julle self daaroor beslis. In sulke sake wil ek nie regter wees nie.”

16. Daarna het hy hulle uit die hof uitgejaag.

17. Hulle het toe almal vir Sostenes, die hoof van die sinagoge, gegryp en hom net daar voor die regbank aangerand. Gallio het hom egter niks daaraan gesteur nie.

18. Nadat Paulus nog 'n tyd lank daar by die gelowiges in Korinte gebly het, het hy van hulle afskeid geneem en saam met Priscilla en Akwila na Sirië toe vertrek. Voordat hy in Kenchreë aan boord gegaan het, het hy sy hare laat afsny, omdat 'n gelofte wat hy afgelê het, vervul was.

19. By hulle aankoms in Efese het Paulus sy reisgenote verlaat en in die sinagoge ingegaan, waar hy met die Jode geredeneer het.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 18