Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 15:9-25 Afrikaans 1983 (AFR83)

9. Hy het geen onderskeid tussen ons en hulle gemaak nie: Hy het ook hulle harte deur die geloof gereinig.

10. Waarom wil julle dan nou God se geduld op die proef stel deur op die nek van die gelowiges uit die heidennasies 'n juk te lê wat ons voorvaders nie in staat was om te dra nie en ons ook nie?

11. Nee! Ons, en ook hierdie gelowiges, glo dat ons net deur die genade van die Here Jesus gered word.”

12. Daarna het al die mense stilgebly en na Barnabas en Paulus geluister. Hulle het vertel van die tekens en wonders wat God deur hulle onder die heidennasies gedoen het.

13. Toe hulle klaar was, sê Jakobus: “Broers, luister na my!

14. Simon het verduidelik hoe dit God self is wat begin het om na die heidennasies om te sien deur vir Hom 'n volk uit hulle te versamel.

15. Die profete sê dieselfde. Daar staan geskrywe:

16. “Daarna sal Ek terugkom,en Ek sal die vervalle huis van Dawid weer opbou,en Ek sal sy bouvalle herstelen dit weer regmaak,

17. sodat al die ander mense die Here kan soek,ja, al die heidennasieswat Ek geroep het om my eiendom te wees,sê die Here wat hierdie dinge doen.

18. “Dit is van ouds af bekend.

19. Daarom meen ek dat ons dit nie moeilik moet maak vir die heidene wat hulle tot God bekeer nie.

20. Maar ons moet vir hulle skrywe om nie vleis te eet wat aan 'n afgod geoffer is nie, want dit is onrein; dat hulle onsedelikheid moet vermy, geen dier wat verwurg is, moet eet nie, en ook nie bloed nie.

21. Hierdie voorskrifte van Moses word immers van ouds af in elke stad aan die mense voorgehou. Elke sabbatdag word dit in die sinagoges voorgelees.”

22. Daarna het die apostels en die ouderlinge saam met die hele gemeente besluit om mense uit hulle geledere saam met Paulus en Barnabas na Antiogië toe te stuur. Hulle het vir Judas, wat ook Barsabbas genoem is, en vir Silas gekies, manne wat die agting van die gelowiges geniet het.

23. Hulle het die volgende brief saamgestuur:“Van die apostels en die ouderlinge, julle broers.“Aan die gelowiges uit die heidendom in Antiogië, Sirië en Silisië.“Groete.

24. “Ons het gehoor dat daar mense van ons af gekom het wat julle verwar en ontstel het deur dinge te sê waarvoor hulle geen opdrag van ons ontvang het nie.

25. Daarom het ons eenparig besluit om manne te kies en na julle toe te stuur. Hulle vergesel ons geliefde Barnabas en Paulus,

Lees volledige hoofstuk Handelinge 15