Ou Testament

Nuwe Testament

Galasiërs 5:1-11 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Christus het ons vry gemaak om werklik vry te wees. Staan dan vas in hierdie vryheid en moet julle nie weer onder 'n slawejuk laat indwing nie.

2. Kyk, ek, Paulus, sê vir julle: As julle julle laat besny, sal Christus vir julle geen betekenis hê nie.

3. Ek sê dit weer nadruklik vir elkeen wat hom laat besny: Hy is verplig om die hele wet van Moses te onderhou.

4. Julle wat van julle sonde vrygespreek wil word deur die wet te onderhou, julle het julle band met Christus verbreek, julle het die genade van God verbeur.

5. Wat ons betref, deur die werking van die Gees is dit ons hoop en verwagting dat ons deur te glo, vrygespreek sal word.

6. In Christus Jesus is dit nie van belang of jy besny is of nie. Al wat van belang is, is geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan.

7. Julle was so goed op pad. Wie het julle verhinder om die waarheid te bly gehoorsaam?

8. Wie het julle omgepraat? Nie God nie; Hy roep julle tot gehoorsaamheid.

9. 'n Bietjie suurdeeg deurtrek die hele deeg.

10. Ons band met die Here gee my die vertroue dat julle net so sal dink soos ek. Maar die man wat vir julle in verwarring bring, wie hy ook al mag wees, God sal hom straf.

11. Wat my betref, broers, as ek nog verkondig dat 'n mens besny moet word, waarom word ek dan nog vervolg? Dan is die kruis as struikelblok mos uit die weg geruim.

Lees volledige hoofstuk Galasiërs 5