Ou Testament

Nuwe Testament

Die Openbaring 5:8-14 Afrikaans 1983 (AFR83)

8. Net toe die Lam die boek neem, het die vier lewende wesens en die vier en twintig ouderlinge voor Hom gekniel. Elkeen van hulle het 'n siter gehad en 'n goue bak vol wierook, die gebede van die gelowiges.

9. Toe sing hulle 'n nuwe lied:“U is waardig om die boek te neem en die seëls daarvan oop te maak omdat U geslag is en met u bloed mense vir God losgekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie.

10. U het hulle 'n koninkryk en priesters vir ons God gemaak en hulle sal oor die aarde regeer.”

11. Toe het ek rondom die troon en die lewende wesens en die ouderlinge 'n groot menigte engele gesien. Daar was duisende der duisende, ja, miljoene der miljoene. Ek het hulle hard hoor

12. uitroep:“Die Lam wat geslag was, is waardig om die mag en rykdom, die wysheid en sterkte, die eer, heerlikheid en lof te ontvang.”

13. Die hele skepping, alles in die hemel en op die aarde en onder die aarde en op die see, ja, alles wat daar is, het ek hoor sê:“Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam, behoort die lof en die eer, die heerlikheid en die krag, tot in alle ewigheid.”

14. Die vier lewende wesens het gesê: “Amen!” En die ouderlinge het gekniel en God aanbid.

Lees volledige hoofstuk Die Openbaring 5