Ou Testament

Nuwe Testament

Die Openbaring 3:8-18 Afrikaans 1983 (AFR83)

8. Ek weet alles wat julle doen. Kyk, Ek het 'n deur voor julle oopgesluit en niemand kan dit weer toesluit nie. Ek weet dat julle min krag het, en tog het julle aan my boodskap vasgehou en My nie verloën nie.

9. Kyk, Ek beskik dat van die lede van die sinagoge van die Satan, die mense wat daarop aanspraak maak dat hulle Jode is, en dit nie is nie, maar lieg — kyk, Ek sal maak dat hulle kom en voor julle kniel en erken dat Ek julle liefhet.

10. Omdat julle aan die boodskap van my volharding in lyding vasgehou het, sal Ek julle ook vashou in die tyd van beproewing wat oor die hele wêreld gaan kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel.

11. Ek kom gou. Hou vas wat julle het, sodat niemand julle kroon wegvat nie.

12. Elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek 'n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal vir altyd daar bly. Ek sal op hom die Naam van my God skrywe en die naam van die stad van my God, die nuwe Jerusalem, wat van my God af uit die hemel uit afkom. En Ek sal ook my eie nuwe Naam op hom skrywe.

13. Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê.

14. Skrywe aan die leraar van die gemeente in Laodisea:So sê die Amen, die geloofwaardige en ware getuie, Hy deur wie God alles geskep het:

15. Ek weet alles wat julle doen. Ek weet dat julle nie koud is nie, en ook nie warm nie. As julle tog maar koud of warm was!

16. Maar nou, omdat julle lou is, nie warm nie en ook nie koud nie, gaan Ek julle uit my mond uitspoeg.

17. Julle sê: “Ons is ryk, skatryk, en ons het niks meer nodig nie,” en julle weet nie dat julle ellendig en beklaenswaardig is nie, arm, blind en kaal.

18. Daarom raai Ek julle aan om by My goud te koop wat deur vuur gelouter is, sodat julle ryk kan word; en koop wit klere, sodat julle julle kan aantrek en julle skande, julle naaktheid, nie gesien word nie; en koop oogsalf om aan julle oë te smeer, sodat julle kan sien.

Lees volledige hoofstuk Die Openbaring 3