Ou Testament

Nuwe Testament

Die Openbaring 19:12-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

12. Sy oë het soos vuur gevlam, en op sy kop was daar baie heerserskrone. Daar was 'n Naam op Hom geskrywe wat niemand anders ken nie, net Hy self.

13. Hy het klere aangehad wat met bloed deurweek was, en sy Naam is: “Die Woord van God.”

14. Die leërs in die hemel het op wit perde agter Hom aan gery. Hulle het fyn, helder wit klere aangehad.

15. Uit sy mond het daar 'n skerp swaard uitgekom om die nasies mee te tref, en Hy sal hulle met 'n ystersepter regeer. Hy sal self die parskuip trap vir die wyn, die wyn van die toorn en die oordeel van God, die Almagtige.

16. Op sy klere, by sy heupe, was daar 'n Naam geskrywe: “Die Koning van die konings en die Here van die heersers.”

17. Toe het ek 'n engel by die son sien staan. Hy het met 'n harde stem uitgeroep en vir al die roofvoëls, wat hoog in die lug vlieg, gesê: “Kom, kom bymekaar vir die groot feesmaal wat God gereed maak!

18. Kom eet die vleis van die konings, die vleis van die opperbevelhebbers, die vleis van die magtiges en die vleis van die perde en hulle ruiters, ja, die vleis van allerhande mense: vryes en slawe, klein en groot.”

19. Toe het ek gesien dat die dier en die konings van die aarde met hulle leërs bymekaargekom het om oorlog te maak teen die Ruiter op die wit perd en teen sy leër.

20. Die dier is toe gevange geneem en saam met hom ook die vals profeet wat die wondertekens vir die dier gedoen en daarmee die mense mislei het wat die merk van die dier aanvaar en sy beeld aanbid het. Hulle twee is lewend in die vuurpoel gegooi wat met swael brand.

21. Die ander mense is doodgemaak met die swaard wat uitgegaan het uit die mond van die Ruiter op die wit perd. Al die roofvoëls het hulle dik geëet aan die vleis.

Lees volledige hoofstuk Die Openbaring 19