Ou Testament

Nuwe Testament

Die Openbaring 16:10-20 Afrikaans 1983 (AFR83)

10. Die vyfde engel het toe sy bak op die troon van die dier uitgegooi, en daar het duisternis oor die koninkryk van die dier gekom. Die mense het hulle tonge stukkend gebyt van die pyn

11. en het die God van die hemel gelaster oor die pyn wat hulle moet verduur, en oor die swere. En hulle het hulle nie bekeer van hulle verkeerde praktyke nie.

12. Die sesde engel het toe sy bak op die groot Eufraatrivier uitgegooi. Die water daarvan het opgedroog om 'n pad vir die konings uit die ooste oop te maak.

13. Toe sien ek uit die bek van die draak en uit die bek van die dier en uit die mond van die vals profeet drie onrein geeste kom wat soos paddas lyk.

14. Hierdie geeste, wat wondertekens doen, is bose geeste. Hulle gaan na die konings van die hele wêreld toe om hulle byeen te bring vir die oorlog op die groot dag van God, die Almagtige.

15. “Kyk, Ek kom onverwags soos 'n dief. Geseënd is die een wat wakker bly en sy klere reghou, sodat hy nie kaal hoef te loop en die mense sy skande sien nie.”

16. Die geeste het die konings byeengebring op die plek wat in Hebreeus Armageddon genoem word.

17. Die sewende engel het toe sy bak in die lug uitgegooi. Van die troon in die tempel af het daar 'n stem hard uitgeroep: “Dit is verby!”

18. Toe het daar weerligstrale, dreunings en donderslae gekom. Daar was ook 'n groot aardbewing soos daar nog nie was vandat die mens op die aarde gekom het nie, so 'n geweldige groot aardbewing was dit.

19. Die groot stad het in drie dele geskeur, en die stede van die nasies het inmekaargestort. God het ook nie vergeet om vir die grote Babilon die beker met die wyn van sy gloeiende toorn te gee nie.

20. Al die eilande het verdwyn, en berge was daar ook nie meer nie.

Lees volledige hoofstuk Die Openbaring 16