hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Tessalonisense 3 Afrikaans 1983 (AFR83)

Bid vir ons

1. Verder, broers, bid vir ons, sodat die woord van die Here vinnig mag versprei en oral in ere gehou mag word soos by julle.

2. Bid ook dat ons van verkeerde en slegte mense verlos word, want nie almal is gelowiges nie.

3. Die Here is getrou; Hy sal julle versterk en julle van die Bose bewaar.

4. Deur die Here het ons vertroue in julle dat julle doen en sal doen wat ons julle voorhou.

5. Mag die Here julle gedagtes rig op die liefde van God en die volharding van Christus!

Die plig om te werk

6. Ons beveel julle, broers, in die Naam van ons Here Jesus Christus: Onttrek julle aan elke broer wat leeglê en hom nie hou aan die opdragte wat julle van ons ontvang het nie.

7. Julle weet self watter voorbeeld ons vir julle gestel het om te volg. Ons het nie daar by julle leeggelê

8. of op ander geteer nie. Inteendeel, ons het dag en nag geswoeg en gesweet om nie vir een van julle 'n las te wees nie.

9. Nie dat ons nie die reg het op onderhoud van julle nie, maar ons wou vir julle 'n voorbeeld wees wat julle moet volg.

10. Toe ons nog by julle was, het ons vir julle uitdruklik gesê: “As iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie.”

11. Ons sê dit omdat ons verneem dat daar mense by julle is wat leeglê, wat self nie werk nie en hulle net met ander se sake bemoei.

12. Sulke mense beveel en gebied ons op gesag van die Here Jesus Christus dat hulle hulle aandag by hulle werk moet bepaal en hulle eie brood verdien.

13. Wat julle betref, broers: Moenie moeg word om goed te doen nie.

14. En as iemand nie ons bevele, soos ons dit in hierdie brief vir julle gee, gehoorsaam nie, sonder dan daardie man af en vermy hom, dat hy kan skaam kry.

15. Moet hom egter nie soos 'n vyand behandel nie, maar wys hom tereg soos 'n broer.

Seën

16. Mag die Here, wat vrede gee, julle altyd in alle opsigte vrede gee! Die Here sal by julle almal wees!

17. Nou skryf ek met my eie hand. Groete, Paulus.So teken ek elke brief. Dit is my handskrif.

18. Die genade van ons Here Jesus Christus sal by julle almal wees!