Ou Testament

Nuwe Testament

2 Petrus 2:11-22 Afrikaans 1983 (AFR83)

11. Selfs die engele, wat tog baie sterker en magtiger is, bring nie voor die Here lasterlike aanklagte teen hierdie wesens in nie.

12. Maar hierdie mense praat lasterlik van dinge waarvan hulle niks verstaan nie. Hulle is soos verstandlose wilde diere wat voortgebring word om gevang en doodgemaak te word. Soos wilde diere sal hulle ook verdelg word.

13. Vir hulle goddeloosheid sal hulle die loon van die goddelose ontvang. Hulle verlustig hulle daarin om helder oordag swelgpartye te hou. Wanneer hulle saam met julle eet, is hulle 'n smet en 'n skande omdat hulle hulle aan uitspattighede te buite gaan.

14. Hulle oë is die ene wellus, en aan sonde kry hulle net nie genoeg nie. Hulle verlei onstandvastige mense en is bedrewe geldwolwe, die vervloektes!

15. Hulle het die reguit pad verlaat en verdwaal geraak. Hulle het die weg gevolg van Bileam seun van Beor wat daarop uit was om vir geld onreg te pleeg,

16. maar wat oor sy oortreding bestraf is. 'n Stom rydier het met die stem van 'n mens gepraat en 'n einde gemaak aan die onsinnige optrede van die profeet.

17. Hierdie mense is droë fonteine, miswolke wat deur 'n stormwind voortgejaag word. Vir hulle word in die diepste duisternis plek gehou.

18. Hulle is aanmatigend en sê sinlose dinge. Met wellus en losbandigheid verlei hulle die mense wat pas vrygekom het uit die kring van dié wat op dwaalweë verkeer.

19. Hulle belowe vryheid aan hierdie mense, al is hulle self slawe van die verderf; want as iets jou in sy mag het, is jy sy slaaf.

20. Mense wat van die besmettinge van die wêreld vrygekom het deurdat hulle ons Here en Verlosser, Jesus Christus, leer ken het, en wat weer daarin vasgevang en daardeur oorweldig word, is aan die einde slegter daaraan toe as aan die begin.

21. Dit sou vir hulle beter gewees het as hulle die wil van God nie leer ken het nie as dat hulle dit wel leer ken het en daarna afgewyk het van die heilige gebod wat aan hulle oorgedra is.

22. Van hulle is die spreekwoorde waar:“'n Hond gaan terug na sy braaksel toe”en:“'n Vark wat gewas is, gaan rol weer in die modder.”

Lees volledige hoofstuk 2 Petrus 2