Ou Testament

Nuwe Testament

2 Petrus 2:1-10 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Maar daar was ook vals profete onder die volk, en so sal daar ook onder julle vals leraars kom. Hulle sal verderflike dwaalleer insmokkel en die Here wat hulle vrygekoop het, verloën. So sal hulle hulleself baie gou in die verderf stort.

2. Baie mense sal hulle losbandigheid navolg, en deur hulle toedoen sal mense kwaad praat van die Weg van die waarheid.

3. In hulle hebsug sal hulle julle met allerhande stories uitbuit. Maar hulle vonnis is lankal gevel, en hulle ondergang is onafwendbaar.

4. God het selfs die engele wat gesondig het, nie gespaar nie. Hy het hulle in die hel gestort en hulle laat boei om in die duisternis gevange gehou te word vir die oordeel.

5. Hy het ook die wêreld van die outyd nie gespaar nie, maar die sondvloed oor die wêreld van goddelose mense gebring. Net vir Noag wat die wil van God verkondig het, en sewe ander mense het Hy gered.

6. Die stede Sodom en Gomorra het Hy tot verwoesting veroordeel en tot as verbrand, en met hierdie voorbeeld het Hy getoon wat oor die goddelose mense gaan kom.

7. En tog het Hy vir Lot gered, 'n eerbare man wat gebuk moes gaan onder die losbandige lewenswyse van sedelose mense.

8. Terwyl hy tussen hulle gewoon het, moes hierdie eerbare man dag vir dag soveel van hulle gruweldade aanskou en sulke dinge aanhoor dat dit 'n foltering was vir sy opregte gemoed.

9. Die Here weet dus om dié wat Hom dien, uit beproewing te red, maar om die goddeloses te straf en vir die oordeelsdag gevange te hou.

10. Veral húlle sal gestraf word wat toegee aan hulle wellustige vleeslike begeertes en wat die gesag van die Here verag.Hierdie leraars is uitdagend en verwaand en huiwer nie om hemelwesens te beledig nie.

Lees volledige hoofstuk 2 Petrus 2