Ou Testament

Nuwe Testament

1 Petrus 2:2-14 Afrikaans 1983 (AFR83)

2. Soos pasgebore kindertjies smag na melk, moet julle smag na die suiwer geestelike melk, sodat julle daardeur kan opgroei en die saligheid verkry.

3. Julle het immers ondervind dat die Here goed is.

4. Kom na Hom toe, die lewende steen, wat deur die mense afgekeur is, maar deur God vir die ereplek uitverkies is.

5. Laat julle as lewende stene opbou tot 'n geestelike huis, om 'n heilige priesterdom te wees en geestelike offers te bring wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is.

6. Daarom staan daar in die Skrif:“Kyk, Ek lê in Sion 'n hoekklip, uitverkies vir die ereplek.Wie in Hom glo, word nooit teleurgestel nie.”

7. Julle wat glo, deel in hierdie eer, maar vir dié wat nie glo nie, geld die woorde:“Die klip wat deur die bouers afgekeur is,juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword”

8. en:“'n klip waaroor 'n mens struikel en 'n rots waarteen jy jou stamp.”Hulle struikel omdat hulle nie aan die woord gehoorsaam is nie. So het God dit ook vir hulle bestem.

9. Julle, daarenteen, is 'n uitverkore volk, 'n koninklike priesterdom, 'n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig.

10. Julle was vroeër geen volk nie, maar nou is julle die volk van God. Julle het tóé geen barmhartigheid ontvang nie, maar nou het God aan julle barmhartigheid bewys.

11. Geliefdes, in die wêreld is julle vreemdelinge en bywoners. Daarom dring ek by julle daarop aan om nie aan sinlike begeertes toe te gee nie. Dit verwoes net 'n mens se lewe.

12. Gedra julle altyd goed onder die heidene sodat, al praat hulle kwaad van julle asof julle misdadigers is, hulle julle voorbeeldige lewe kan sien en God kan verheerlik op die dag van afrekening.

13. Omdat die Here dit wil, moet julle julle onderwerp aan elke menslike owerheid, of dit nou die keiser as hoogste gesag is

14. of die goewerneurs as sy gevolmagtigdes wat dié wat kwaad doen, moet straf, maar dié wat goed doen, moet prys.

Lees volledige hoofstuk 1 Petrus 2