Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korintiërs 7:9-27 Afrikaans 1983 (AFR83)

9. Maar as hulle nie in onthouding kan leef nie, moet hulle trou, want dit is beter om te trou as om deur hartstog verteer te word.

10. Die getroudes beveel ek — nee, nie ek nie, maar die Here — dat 'n vrou nie van haar man mag skei nie.

11. As sy tog skei, moet sy daarna ongetroud bly of haar met haar man versoen. Net so mag 'n man ook nie van sy vrou skei nie.

12. Vir die ander sê ek — ek, nie die Here nie: As 'n gelowige man met 'n ongelowige vrou getroud is en sy gewillig is om by hom te bly, moet hy nie van haar skei nie.

13. En as 'n vrou met 'n ongelowige man getroud is en hy gewillig is om by haar te bly, moet sy nie van die man skei nie.

14. Die ongelowige man is by God aanneemlik deur die band met die gelowige vrou, en die ongelowige vrou is by God aanneemlik deur die band met die gelowige man. Anders sou julle kinders heidene wees, maar nou behoort hulle aan God.

15. As die ongelowige egter wil skei, laat hom skei. In sulke gevalle is die gelowige man of vrou nie gebind nie. God het julle geroep om in vrede te lewe.

16. Jy, vrou, weet immers nie of jy jou man sal red nie. Of jy, man, hoe weet jy of jy jou vrou sal red?

17. Verder moet elkeen in die omstandighede bly wat die Here vir hom gegee het. Hy moet bly wat hy was toe God hom geroep het. So skryf ek dit ook aan al die gemeentes voor.

18. As iemand reeds besny was toe God hom geroep het, moet hy die teken van sy besnydenis nie ongedaan probeer maak nie. As iemand 'n onbesnedene was toe hy geroep is, moet hy hom nie laat besny nie.

19. Dit kom nie daarop aan of iemand besny is of nie, maar wel of hy die gebooie van God onderhou.

20. In die samelewing moet elkeen bly in die omstandighede waarin hy was toe God hom geroep het.

21. As jy 'n slaaf was toe God jou geroep het, moet jy jou nie daaroor kwel nie. Maar as jy die kans kry om vry te word, maak gerus daarvan gebruik.

22. 'n Slaaf wat deur die Here geroep is, is immers 'n vrygemaakte van die Here. Net so ook is 'n vry man wat deur die Here geroep is, nou 'n slaaf van Christus.

23. Julle is vrygekoop en die prys is betaal; moet dan nie slawe van mense wees nie.

24. Broers, elkeen moet God dien in die omstandighede waarin hy was toe God hom geroep het.

25. Wat die ongetroudes betref, het ek geen bevel van die Here nie, maar ek gee my eie mening as iemand wat deur die genade van die Here betroubaar is.

26. Ek meen dat, met die oog op die swaarkry van die eindtyd, dit vir 'n mens goed is om te bly soos hy is:

27. as jy getroud is, moenie skei nie; as jy ongetroud is, moenie 'n vrou soek nie.

Lees volledige hoofstuk 1 Korintiërs 7