Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korintiërs 11:8-27 Afrikaans 1983 (AFR83)

8. Die man is nie uit die vrou geneem nie, maar die vrou uit die man.

9. Die man is ook nie ter wille van die vrou geskep nie, maar die vrou ter wille van die man.

10. Daarom behoort die vrou 'n teken van die man se gesag oor haar op haar kop te hê ter wille van die engele.

11. Tog het die Here bepaal dat die vrou nie sonder die man sal bestaan nie, en die man nie sonder die vrou nie,

12. want soos die vrou uit die man geneem is, so kom die man deur die vrou in die wêreld, maar alles is uit God.

13. Oordeel julle nou maar self: is dit betaamlik vir 'n vrou om sonder iets op haar kop in die erediens tot God te bid?

14. Die algemene opvatting is tog dat dit vir 'n man nie eerbaar is om lang hare te dra nie,

15. maar dat dit vir 'n vrou wel eerbaar is. Lang hare is immers vir haar gegee as 'n bedekking.

16. Ons het in die erediens nie 'n ander gewoonte nie, en die ander gemeentes van God ook nie. Dit sê ek vir iemand wat hieroor wil stry.

17. Noudat ek besig is om voorskrifte te gee — daar is dinge wat ek nie prysenswaardig vind nie. Dit is dat julle samekomste eerder kwaad doen as goed.

18. Wat my veral hinder, is dat daar, soos ek hoor, verdeeldheid onder julle is wanneer julle as gemeente saamkom; en gedeeltelik glo ek dit ook.

19. Daar moet trouens partyskappe onder julle wees sodat dit bekend kan word wie van julle die toets kan deurstaan.

20. As julle dan as gemeente saamkom, is dit nie meer die nagmaal van die Here wat julle vier nie,

21. want by die gemeenskaplike maaltyd eet elkeen gou sy eie eetgoed, met die gevolg dat party honger bly en party te veel drink.

22. Het julle dan nie huise waar julle kan eet en drink nie? Of het julle nie eerbied vir die gemeente van God nie, en wil julle die armes verneder? Wat moet ek vir julle sê? Moet ek julle prys? Hieroor prys ek julle beslis nie!

23. Ek het van die Here ontvang wat ek ook aan julle oorgelewer het: Die Here Jesus het in die nag waarin Hy oorgelewer is, brood geneem

24. en, nadat Hy God daarvoor gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: “Dit is my liggaam; dit is vir júlle. Gebruik dit tot my gedagtenis.”

25. Net so ook het Hy ná die maaltyd die beker geneem en gesê: “Hierdie beker is die nuwe verbond, wat deur my bloed beseël is. Gebruik dit, elke keer as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.”

26. Elke keer as julle van hierdie brood eet en uit die beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom.

27. Elkeen wat op 'n ongepaste wyse van die brood eet of uit die beker van die Here drink, sal skuldig wees aan sonde teen die liggaam en die bloed van die Here.

Lees volledige hoofstuk 1 Korintiërs 11