Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korintiërs 10:9-19 Afrikaans 1983 (AFR83)

9. Laat ons Christus nie uittart nie, soos sommige van hulle Hom uitgetart het, en hulle het deur slange omgekom.

10. En moenie teen God in verset kom nie, soos sommige van hulle in verset gekom het, en hulle het deur die engel van die dood omgekom.

11. Hierdie dinge het oor hulle gekom as 'n voorbeeld vir ons en is opgeskryf as 'n waarskuwing vir ons wat die einde van die tye al beleef.

12. Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.

13. Geen versoeking wat meer is as wat 'n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan.

14. Daarom, my geliefdes, moet niks met die afgodsdiens te doen hê nie.

15. Ek praat met julle as verstandige mense. Beoordeel self wat ek sê.

16. Die beker van danksegging, waarvoor ons God dank, is dit nie die gemeenskap met die bloed van Christus nie? Die brood wat ons breek, is dit nie die gemeenskap met die liggaam van Christus nie?

17. Omdat dit een brood is, is ons, al is ons baie, saam een liggaam, want ons het almal deel aan die een brood.

18. Kyk maar hoe is dit by die Joodse volk. Kom daar dan nie gemeenskap tot stand tussen die offeraltaar en dié wat die offers eet nie?

19. Wat wil ek hiermee sê? Dat 'n afgodsoffer of 'n afgod enige betekenis het?

Lees volledige hoofstuk 1 Korintiërs 10