Ou Testament

Nuwe Testament

1 Johannes 4:1-10 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Geliefdes, moenie enigeen glo wat sê dat hy die Gees van God het nie, want daar is nou reeds baie vals profete in die wêreld, maar ondersoek elkeen, ondersoek of sy gees van God afkomstig is.

2. Hiéraan ken julle die Gees van God: elkeen wat bely dat Jesus werklik die Christus is wat mens geword het, het die Gees wat van God afkomstig is.

3. En elkeen wat dit nie van Jesus bely nie, het nie die Gees wat van God afkomstig is nie. Hy het die gees van die antichris, die gees van wie julle gehoor het dat hy kom en wat nou reeds in die wêreld is.

4. Julle behoort aan God, liewe kinders, en het die vals profete klaar oorwin omdat Hy wat in julle is, groter is as die duiwel, wat in die wêreld is.

5. Hulle behoort aan die wêreld, en wat hulle sê, is dus van die wêreld afkomstig, en die wêreld luister na hulle.

6. Ons behoort aan God, en wie vir God ken, luister na ons; wie nie aan God behoort nie, luister nie na ons nie. Hieraan kan ons die Gees van die waarheid en die gees van die dwaalleer onderskei.

7. Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is 'n kind van God en ken God.

8. Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde.

9. Hiérin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê.

10. Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes.

Lees volledige hoofstuk 1 Johannes 4