Ou Testament

Nuwe Testament

Spreuke 8:13-26 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

13. Die vrees van die Here is om te haat wat sleg is; hoogmoed en trotsheid en ’n slegte wandel en ’n huigelagtige mond haat ek.

14. Raad en beleid is myne, ek is die insig, sterkte is myne.

15. Deur my regeer die konings en stel die maghebbers vas wat reg is;

16. deur my heers die vorste en die edeles, al die regters van die aarde.

17. Ék het lief die wat my liefhet, en die wat my soek, sal my vind.

18. Rykdom en eer is by my, duursame goed en geregtigheid.

19. My vrug is beter as goud en as fyn goud, en my opbrings as uitgesoekte silwer.

20. Ek wandel op die weg van geregtigheid, in die middel van die paaie van reg,

21. om die wat my liefhet, ’n besitting te laat erwe, en hulle skatkamers maak ek vol.

22. DIE Here het my berei as eersteling van sy weg, voor sy werke, van ouds af.

23. Van ewigheid af is ek geformeer, van die begin af, van die voortyd van die aarde af.

24. Toe daar nog geen wêreldvloede was nie, is ek gebore; toe fonteine, swaar van water, nog nie daar was nie;

25. voordat die berge ingesink het, voor die heuwels is ek gebore;

26. toe Hy die aarde en die velde en al die stoffies van die wêreld nog nie gemaak het nie.

Lees volledige hoofstuk Spreuke 8