Ou Testament

Nuwe Testament

Spreuke 6:16-29 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

16. Hierdie ses dinge haat die Here, en sewe is vir sy siel ’n gruwel:

17. trotse oë, ’n leuenagtige tong en hande wat onskuldige bloed vergiet,

18. ’n hart wat onheilsplanne beraam, voete wat haastig na die kwaad toe loop,

19. een wat as valse getuie leuens uitstrooi en tussen broers tweedrag saai.

20. BEWAAR, my seun, die gebod van jou vader, en verwerp die onderwysing van jou moeder nie;

21. bind dit gedurigdeur op jou hart, hang dit om jou hals;

22. mag dit jou lei as jy wandel, oor jou wag hou as jy slaap en jou toespreek as jy wakker word.

23. Want die gebod is ’n lamp en die onderwysing ’n lig en die teregwysinge van die tug ’n weg tot die lewe,

24. om jou te bewaar vir ’n slegte vrou, vir die gevlei van ’n vreemde tong.

25. Begeer haar skoonheid nie in jou hart nie, en laat sy jou nie vang met haar ooglede nie;

26. want vir ’n hoer verval ’n mens tot ’n stuk brood, en ’n ander se vrou maak jag op ’n kosbare lewe.

27. Kan iemand vuur in sy skoot dra sonder dat sy klere verbrand?

28. Of kan iemand op gloeiende kole loop sonder dat sy voete brandwonde kry?

29. So is dit met hom wat by die vrou van sy naaste ingaan; elkeen wat haar aanraak, sal nie ongestraf bly nie.

Lees volledige hoofstuk Spreuke 6