Ou Testament

Nuwe Testament

Spreuke 31:15-31 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

15. Wau. En sy staan op as dit nog nag is en gee voedsel aan haar huisgesin en die bestemde deel aan haar diensmeisies.

16. Sajin. Sy dink na oor ’n stuk grond en koop dit, van die vrug van haar hande plant sy ’n wingerd.

17. Get. Sy omgord haar lendene met krag en hou haar arms stewig.

18. Tet. Sy voel dat haar wins goed is, in die nag gaan haar lamp nie dood nie.

19. Jod. Sy steek haar hande uit na die spinstok, en haar handpalms hou die spoel vas.

20. Kaf. Sy brei haar handpalm uit na die ellendige, en sy steek haar hande uit na die behoeftige.

21. Lamed. Sy is nie bevrees vir haar huisgesin vanweë die sneeu nie, want haar hele huisgesin dra skarlaken stof.

22. Mem. Sy maak vir haarself dekens, haar tabberd is van fyn linne en purper.

23. Noen. Haar man is bekend in die poorte as hy saam met die oudstes van die land sit.

24. Samek. Sy maak hemde en verkoop dit, en gordels lewer sy aan die handelaars.

25. Ajin. Sterkte en eer is haar kleed, en sy lag oor die dag wat kom.

26. Pe. Haar mond maak sy oop met wysheid, en vriendelike onderrigting is op haar tong.

27. Sade. Opmerksaam gaan sy die werksaamhede van haar huis na, en die brood van luiheid eet sy nie.

28. Kof. Haar seuns tree op en noem haar gelukkig, haar man ook, en hy prys haar:

29. Resj. Baie dogters het hulle knap gedra, maar jy oortref hulle almal.

30. Sjin. Die bevalligheid is bedrog, en die skoonheid is nietigheid; ’n vrou wat die Here vrees, sy moet geprys word.

31. Tau. Gee haar van die vrug van haar hande, en laat haar werke haar prys in die poorte.

Lees volledige hoofstuk Spreuke 31