Ou Testament

Nuwe Testament

Spreuke 29:6-21 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

6. In die oortreding van ’n slegte mens is ’n strik, maar die regverdige sal jubel en bly wees.

7. Die regverdige ken die reg van die armes, maar die goddelose verkry geen kennis nie.

8. Manne wat spot, bring ’n stad in oproer, maar die wyse bring die toorn tot bedaring.

9. Het ’n wyse man met ’n sot ’n regsaak, dan gaan die sot te kere en lag, sonder bedaring.

10. Manne van bloed haat die regskapene, en hulle soek die lewe van die opregtes.

11. ’n Dwaas laat al sy toorn uitvaar, maar ’n wyse bring dit eindelik tot bedaring.

12. ’n Heerser wat luister na ’n leuenagtige woord, sy dienaars is almal goddeloos.

13. Die arme en die man wat verdruk, ontmoet mekaar, die Here verlig altwee se oë.

14. ’n Koning wat getrou aan die armes reg verskaf, sy troon sal vir altyd bevestig wees.

15. Die roede en die bestraffing gee wysheid; maar ’n seun wat aan homself oorgelaat word, steek sy moeder in die skande.

16. As die goddelose vermeerder, vermeerder die oortreding; maar die regverdiges aanskou met welgevalle hulle ondergang.

17. Tugtig jou seun, dan sal hy jou rus gee en aan jou siel vreugde verskaf.

18. As daar geen openbaring is nie, word die volk bandeloos; maar hy wat die wet onderhou, gelukkig is hy.

19. Met woorde laat ’n slaaf hom nie waarsku nie; want hy verstaan dit wel, maar hy steur hom daar nie aan nie.

20. Het jy ’n man gesien wat haastig is in sy woorde? Vir ’n dwaas is daar meer hoop as vir hom.

21. As ’n mens sy slaaf van jongs af verwen, word hy op die end ondankbaar.

Lees volledige hoofstuk Spreuke 29