Ou Testament

Nuwe Testament

Spreuke 28:4-20 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

4. Die wat die wet verlaat, hulle prys die goddelose; maar die wat die wet onderhou, word vererg oor hulle.

5. Slegte mense verstaan die reg nie, maar die wat die Here soek, verstaan alles.

6. Die arme wat in sy regskapenheid wandel, is beter as die verkeerde wat twee paaie wil loop en daarby ryk is.

7. Wie die wet bewaar, is ’n verstandige seun; maar hy wat met deurbringers omgaan, steek sy vader in die skande.

8. Wie sy goed vermeerder deur rente en deur woeker, maak bymekaar vir een wat hom oor die armes sal ontferm.

9. Wie sy oor wegdraai om nie na die wet te luister nie, selfs sy gebed is ’n gruwel.

10. Wie die opregtes laat verdwaal op ’n verkeerde weg, sal self in sy eie kuil val; maar die regskapenes sal die goeie beërwe.

11. ’n Ryk man is wys in sy eie oë; maar ’n arme wat verstandig is, ondersoek hom terdeë.

12. As die regverdiges juig, is die heerlikheid groot; maar as die goddelose opkom, moet die mense gesoek word.

13. Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie; maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid vind.

14. Gelukkig is die mens wat gedurigdeur vrees; maar hy wat sy hart verhard, sal in die onheil val.

15. ’n Leeu wat brom, en ’n beer wat hongerig is, so is ’n goddelose wat oor ’n arm volk heers.

16. ’n Vors wat gebrek aan verstand het, is wel ryk aan afpersinge, maar die wat onregverdige wins haat, sal die dae verleng.

17. ’n Mens wat gedruk word deur die bloed van ’n mens, sal vlug tot by die graf; laat niemand hom vashou nie.

18. Wie opreg wandel, sal gehelp word; maar hy wat verward is, wat die twee paaie betref, sal meteens val.

19. Wie sy land bewerk, het volop brood; maar hy wat nietighede najaag, het armoede volop.

20. ’n Betroubare man is ryk aan seëninge; maar hy wat haastig is om ryk te word, sal nie ongestraf bly nie.

Lees volledige hoofstuk Spreuke 28