Ou Testament

Nuwe Testament

Spreuke 26:3-19 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

3. ’n Sweep is vir die perd, ’n toom vir die esel en ’n roede vir die rug van die dwase.

4. Antwoord ’n dwaas nie na sy sotheid nie, sodat jy ook nie net soos hy word nie.

5. Antwoord ’n dwaas na sy sotheid, sodat hy nie wys is in sy eie oë nie.

6. Hy kap sy voete af, hy ly onreg, wat ’n boodskap stuur deur middel van ’n dwaas.

7. Soos die bene van ’n lamme slap afhang, so is ’n spreuk in die mond van die dwase.

8. Soos een wat ’n klip in ’n slinger vasbind, so is hy wat eer gee aan ’n dwaas.

9. Soos ’n doring wat in die hand van ’n dronkaard geraak het, so is ’n spreuk in die mond van die dwase.

10. Soos ’n skutter wat alles in gevaar bring, is hy wat ’n dwaas huur, sowel as hy wat verbygangers huur.

11. Soos ’n hond wat na sy uitbraaksel teruggaan, is ’n dwaas wat sy sotheid weer ophaal.

12. Het jy ’n man gesien wat wys is in sy eie oë? Daar is meer hoop vir ’n dwaas as vir hom.

13. Die luiaard sê: Daar is ’n leeu op die pad, ’n leeu op die pleine.

14. ’n Deur draai rond op sy skarniere, so die luiaard op sy bed.

15. Het die luiaard sy hand in die skottel gesteek, hy is te moeg om dit na sy mond terug te bring.

16. Die luiaard is wyser in sy eie oë as sewe wat verstandig antwoord.

17. Hy wat ’n verbylopende hond aan die ore gryp, is een wat hom vererg oor ’n twis wat hom nie aangaan nie.

18. Soos een wat onverskillig vuurpyle, dodelike pyle afskiet,

19. so is die man wat sy naaste bedrieg en sê: Ek speel somaar.

Lees volledige hoofstuk Spreuke 26