Ou Testament

Nuwe Testament

Spreuke 14:19-35 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

19. Die slegtes moet buig voor die goeies, en die goddelose by die poorte van die regverdige.

20. Die arme word selfs deur sy naaste gehaat, maar die vriende van die ryke is talryk.

21. Wie sy naaste verag, doen sonde; maar hy wat medelyde het met die ellendiges, hy is gelukkig.

22. Verdwaal hulle nie wat onheil bewerk nie? Maar liefde en trou is vir die wat die goeie bewerk.

23. In enige moeitevolle arbeid is voordeel, maar praatjies is net tot gebrek.

24. Die kroon van die wyse is hulle rykdom, die sotheid van die dwase bly sotheid.

25. ’n Betroubare getuie red lewens, maar hy wat leuens uitstrooi, is bedrog.

26. In die vrees van die Here lê ’n sterk sekerheid, ook vir die kinders van ’n sodanige sal daar ’n toevlug wees.

27. Die vrees van die Here is ’n fontein van die lewe, om van die strikke van die dood af te wyk.

28. In die menigte van die volk lê die heerlikheid van die koning, maar in die gebrek aan mense die ondergang van die vors.

29. Die lankmoedige is groot van verstand, maar die kortgebondene behaal sotheid.

30. ’n Rustige hart is die lewe vir die vlees, maar hartstog ’n verrotting vir die gebeente.

31. Wie die geringe verdruk, versmaad sy Maker, maar hy wat hom oor die behoeftige ontferm, eer Hom.

32. In sy ongeluk word die goddelose omgestoot, maar die regverdige vind ’n toevlug by sy dood.

33. Wysheid rus in die hart van die verstandige, word selfs rugbaar te midde van die dwase.

34. Geregtigheid verhoog ’n volk, maar die sonde is ’n skandvlek vir die nasies.

35. Die welbehae van die koning is vir ’n verstandige dienaar, maar een wat skande maak, is ’n voorwerp van sy grimmigheid.

Lees volledige hoofstuk Spreuke 14