Ou Testament

Nuwe Testament

Spreuke 13:1-15 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. ’n WYSE seun luister na die tug van die vader, maar ’n spotter hoor nie na berisping nie.

2. Van die vrug van iemand se mond eet hy die goeie, maar die begeerte van die ontroues is ’n daad van geweld.

3. Wie sy mond bewaak, bewaar sy lewe; wie sy lippe wyd oopmaak, vir hom is daar ondergang.

4. Die siel van die luiaard begeer, en daar is niks nie, maar die siel van die vlytiges word versadig.

5. Die regverdige haat leuentaal, maar die goddelose maak gehaat en handel skandelik.

6. Geregtigheid bewaar die regskapene van wandel, maar goddeloosheid bring die sondaar tot ’n val.

7. Daar is een wat hom ryk hou, en hy het glad niks nie; een wat hom arm hou, en hy het baie goed.

8. Die losprys vir die lewe van ’n man is sy rykdom, maar die arme hoor geen dreigement nie.

9. Die lig van die regverdige brand vrolik, maar die lamp van die goddelose gaan dood.

10. Vermetelheid gee net getwis af; maar by die wat hulle laat raai, is wysheid.

11. Goed wat uit niks verkry is, word minder; maar hy wat met die hand bymekaarmaak, kry altyd meer.

12. ’n Uitgestelde hoop maak die hart siek; maar ’n wens wat uitkom, is ’n lewensboom.

13. Wie die Woord verag, moet dit ontgelde; maar hy wat die gebod vrees, ontvang vergelding.

14. Die onderrig van die wyse is ’n fontein van die lewe, om die strikke van die dood te ontwyk.

15. ’n Goeie verstand verskaf guns, maar die weg van die ontroues is hard.

Lees volledige hoofstuk Spreuke 13