Ou Testament

Nuwe Testament

Spreuke 11:1-16 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. ’n VALSE weegskaal is vir die Here ’n gruwel, maar in ’n volle gewig het Hy behae.

2. Kom die vermetelheid, dan kom die skande, maar by die beskeidenes is wysheid.

3. Die regskapenheid van die opregtes is vir hulle ’n leier, maar die valsheid van die ontroues vernietig hulle.

4. Goed bring geen voordeel op die dag van die grimmigheid nie, maar geregtigheid red van die dood.

5. Die geregtigheid van die regskapene maak sy weg gelyk, maar die goddelose val deur sy goddeloosheid.

6. Die geregtigheid van die opregtes red hulle, maar deur hulle eie begeerlikheid word die ontroues gevang.

7. By die dood van ’n goddelose mens gaan sy hoop tot niet, en die verwagting van die roekelose het vergaan.

8. Word die regverdige uit die benoudheid gered, dan kom die goddelose in sy plek.

9. Deur die mond stort die roekelose sy naaste in die verderf, maar deur kennis word die regverdiges gered.

10. Oor die voorspoed van die regverdiges jubel ’n stad, en as die goddelose omkom, is daar gejubel.

11. Deur die seën van die opregtes kom ’n stad op, maar deur die mond van die goddelose word dit afgebreek.

12. Die verstandelose verag sy naaste, maar ’n verstandige man bly stil.

13. Die wat met kwaadsprekery omgaan, maak ’n geheim openbaar, maar hy wat betroubaar is van gees, bedek ’n saak.

14. As daar nie goeie oorleg is nie, val ’n volk; maar in die veelheid van raadgewers is redding.

15. Baie sleg word iemand behandel as hy vir ’n ander borg gestaan het; maar hy wat haat wie die handslag gee, is veilig.

16. ’n Aanvallige vrou verkry eer, en die geweldenaars verkry rykdom.

Lees volledige hoofstuk Spreuke 11