Ou Testament

Nuwe Testament

Spreuke 1:21-33 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

21. op die hoek van die rumoerige strate roep sy, by die ingange van die poorte, in die stad, spreek sy haar woorde:

22. Hoe lank sal julle, eenvoudiges, die eenvoudigheid liefhê en die spotters lus hê om te spot en die dwase kennis haat?

23. Wend julle tot my teregwysing, dan laat ek my gees vir julle uitstroom, wil ek my woorde aan julle bekend maak.

24. Omdat ek geroep en julle geweier het, ek my hand uitgestrek en niemand geluister het nie,

25. en julle al my raad nie opgevolg en van my teregwysing nie wou geweet het nie,

26. daarom sal ek ook lag by julle ondergang, ek sal spot as julle verskrikking kom;

27. as julle verskrikking kom soos ’n onweer, en julle ondergang soos ’n stormwind aankom, as benoudheid en angs julle oorval.

28. Dan sal hulle na my roep, maar ek sal nie antwoord nie; hulle sal my soek, maar my nie vind nie.

29. Omdat hulle die kennis gehaat en die vrees van die Here nie verkies het nie,

30. van my raad nie wou weet nie, al my teregwysinge verag het,

31. daarom sal hulle eet van die vrug van hulle wandel en versadig word van hulle planne.

32. Want hulle eie afkerigheid maak die eenvoudiges dood, en hulle eie sorgeloosheid rig die dwase te gronde;

33. maar die wat na my luister, sal veilig woon en gerus wees teen die skrik vir die onheil.

Lees volledige hoofstuk Spreuke 1