Ou Testament

Nuwe Testament

Sefánja 1:1-13 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. DIE woord van die Here wat gekom het tot Sefánja, die seun van Kusi, die seun van Gedálja, die seun van Amárja, die seun van Hiskía, in die dae van Josía, die seun van Amon, koning van Juda.

2. Saamskraap, wegraap sal Ek alles van die aardbodem af weg, spreek die Here.

3. Ek sal wegraap mense en diere, Ek sal wegraap die voëls van die hemel en die visse van die see en die struikelblokke saam met die goddelose, ja, Ek sal die mense uitroei van die aardbodem af weg, spreek die Here.

4. En Ek sal my hand uitstrek teen Juda en teen al die inwoners van Jerusalem; Ek sal ook uit hierdie plek uitroei wat van Baäl oorgebly het, die naam van die afgodsdienaars saam met die priesters;

5. en die wat op die dakke die leër van die hemel aanbid; en die aanbidders wat by die Here sweer en sweer by Milkom.

6. Ook die wat van die Here afvallig word en wat die Here nie soek en Hom nie raadpleeg nie.

7. Swyg voor die Here Here! Want die dag van die Here is naby; want die Here het ’n offer berei, sy gaste geheilig.

8. En op die dag van die offer van die Here sal Ek besoeking doen oor die vorste en die prinse en oor almal wat uitlandse klere dra.

9. Ek sal ook op dié dag besoeking doen oor almal wat oor die drumpel spring, wat die huis van hulle here vul met geweld en bedrog.

10. En op dié dag, spreek die Here — hoor! ’n geskreeu van die Vispoort af en ’n gehuil van die Nuwe Stad af en ’n groot gekraak van die heuwels af!

11. Huil, o inwoners van die Vysel! want al die koopmans gaan te gronde, almal wat geld afweeg, word uitgeroei.

12. En in dié tyd sal Ek Jerusalem met lanterns deursoek en besoeking doen oor die manne wat dik geword het op hulle afsaksel, wat in hulle hart sê: Die Here doen geen goed en Hy doen geen kwaad nie.

13. En hulle rykdom sal geplunder word, en hulle huise verwoes word; en as hulle huise bou, sal hulle dit nie bewoon nie; en as hulle wingerde plant, sal hulle die wyn daarvan nie drink nie.

Lees volledige hoofstuk Sefánja 1