Ou Testament

Nuwe Testament

Sagaría 8:11-23 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

11. Maar nou sal Ek vir die oorblyfsel van hierdie volk nie wees soos in vroeër dae nie, spreek die Here van die leërskare.

12. Want die saad van vrede, die wingerdstok, sal sy vrug gee, en die aarde sy opbrings lewer, en die hemel sal sy dou skenk; en die oorblyfsel van hierdie volk sal Ek al hierdie dinge laat beërwe.

13. En soos julle ’n vloek gewees het onder die nasies, o huis van Juda en huis van Israel, so sal Ek julle verlos, dat julle ’n seën kan wees. Wees nie bevrees nie, laat julle hande sterk wees.

14. Want so sê die Here van die leërskare: Soos Ek My voorgeneem het om julle kwaad aan te doen, toe julle vaders My vertoorn het, sê die Here van die leërskare, en Ek daar geen berou van gehad het nie —

15. so het Ek My weer voorgeneem om in hierdie dae goed te doen aan Jerusalem en die huis van Juda. Wees nie bevrees nie.

16. Dit is die dinge wat julle moet doen: Spreek die waarheid met mekaar; beoefen waarheid en ’n regspraak van vrede in julle poorte!

17. En julle moet nie mekaar se onheil in jul hart versin nie, en nie die valse eed liefhê nie. Want dit alles haat Ek, spreek die Here.

18. En die woord van die Here van die leërskare het tot my gekom en gesê:

19. So sê die Here van die leërskare: Die vasdag in die vierde en die vasdag in die vyfde en die vasdag in die sewende en die vasdag in die tiende maand moet vir die huis van Juda ’n vreugde en blydskap wees en vrolike feestye, maar julle moet die waarheid en die vrede liefhê.

20. So sê die Here van die leërskare: Nog sal volke aankom en die inwoners van baie stede.

21. En die inwoners van die een stad sal gaan na die ander en sê: Kom, laat ons heengaan om die aangesig van die Here om genade te smeek en die Here van die leërskare te soek. Ek wil ook gaan!

22. So sal dan baie volke en magtige nasies kom om die Here van die leërskare in Jerusalem te soek en die aangesig van die Here om genade te smeek.

23. So sê die Here van die leërskare: In dié dae sal tien man uit al die tale van die nasies die slip van ’n Joodse man gryp en dit vashou en sê: Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor dat God met julle is.

Lees volledige hoofstuk Sagaría 8