Ou Testament

Nuwe Testament

Sagaría 7:2-10 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

2. Bet-el het toe Saréser en Regem-Meleg met sy manne gestuur om die aangesig van die Here om genade te smeek

3. deur aan die priesters wat by die huis van die Here van die leërskare was, en aan die profete die vraag te stel: Moet ek in die vyfde maand ween met vas soos ek nou al so baie jare gedoen het?

4. Daarop het die woord van die Here van die leërskare tot my gekom en gesê:

5. Spreek tot die hele volk van die land en tot die priesters dit: As julle, nou sewentig jaar lank, in die vyfde en in die sewende maand gevas en getreur het, het julle toe werklik ter wille van My gevas?

6. En as julle eet en as julle drink, is dit dan nie júlle wat eet en júlle wat drink nie?

7. Is dit nie so met die woorde wat die Here deur die diens van die vroeëre profete verkondig het nie, toe Jerusalem en sy omliggende stede nog bewoond en rustig was, en ook die Suidland en die Laeveld nog bewoond was?

8. Verder het die woord van die Here tot Sagaría gekom en gesê:

9. So het die Here van die leërskare gespreek en gesê: Spreek ’n eerlike vonnis uit en bewys liefde en barmhartigheid die een aan die ander.

10. En moet nie die weduwee en die wees, die vreemdeling en die arme verdruk nie en kwaad in julle hart teenoor mekaar bedink nie.

Lees volledige hoofstuk Sagaría 7