Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 9:31-40 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

31. en listig boodskappers na Abiméleg gestuur om te sê: Kyk, Gaäl, die seun van Ebed, met sy broers, het in Sigem gekom, en kyk, hulle maak die stad teen u op.

32. Maak dan nou in die nag klaar, u met die manskappe wat by u is, en stel ’n hinderlaag op in die veld.

33. Dan kan u in die môre vroeg as die son uitkom, u gereed hou en ’n aanval teen die stad maak; en as hy met die manskappe wat by hom is, uittrek na u toe, handel dan met hom na bevind van sake.

34. Daarop het Abiméleg en al die manskappe wat by hom was, in die nag klaargemaak en hinderlae in vier dele by Sigem opgestel.

35. En Gaäl, die seun van Ebed, het uitgegaan en by die ingang van die stadspoort gaan staan; en toe Abiméleg en al die manskappe wat by hom was, opstaan uit die hinderlaag,

36. sien Gaäl die manskappe en sê vir Sebul: Kyk, daar kom mense van die bergtoppe af; maar Sebul sê vir hom: Jy sien die skaduwee van die berge vir mense aan!

37. Maar Gaäl hou aan en sê: Kyk, daar kom mense van die hoogste punt van die land af, en een deel kom uit die rigting van die eik van die towenaar.

38. Daarop sê Sebul vir hom: Waar is nou jou mond waarmee jy gesê het: Wie is Abiméleg, dat ons hom sou dien? Is dit nie die manskappe wat jy verag het nie? Trek nou tog uit en veg teen hulle!

39. Toe trek Gaäl uit voor die burgers van Sigem en veg teen Abiméleg.

40. Maar Abiméleg het hom agtervolg, en hy het voor hom uit gevlug, en baie het gesneuwel tot by die ingang van die poort.

Lees volledige hoofstuk Rigters 9